 Gerdie Karstens KIMBERLEY. – Die Vodacom Vrystaat-Cheetahs lyk oorgehaal om vanjaar weer minstens tot die halfeindronde van die Absa Curriebeker-rugbyreeks deur te dring.
Die Wit Tornado het gistermiddag op GWK-park hier sy voorneme vir die oorblywende gedeelte van die kompetisie met ’n oorwinning van 33-28 oor Griekwas onderstreep. Die rustyd-telling was 17-9 in die besoekers se guns.
Die tuisspan sal hom skop dat hy nie met ’n oorwinning huis toe is nie. Hy het in die skrums die septer geswaai en net ongedwonge foute het die Poubloues van minstens vier bonuspunte beroof.
Die Vodacom Vrystaat Cheetahs daarenteen glimlag breed nadat hulle met bonuspunte van die Diamantstad teruggekeer het. Hulle het daarmee hul derde plek op die Absa Curriebeker-puntelys verstewig en is goed op dreef om weer in die uitklopfase van die kompetisie in aksie te wees.
Die Vodacom Vrystaat Cheetahs se hegte verdediging was die hoofrede vir hul sege. Soos verlede week teen die Westelike Provinsie was die Wit Tornado rotsvas en het Griekwas bitter min deurkomkans gekry.
Die wenspan se haker en kaptein, Adriaan Strauss, was verstaanbaar tevrede met sy span se vertoning, veral nadat hulle aanvanklik onder geweldige druk van die Noord-Kapenaars verkeer het.
“Ons is baie bly om met ’n oorwinning huiswaarts te keer. Ons het met tye nie die gehalte rugby gespeel wat ons kon nie, maar ons is tevrede met die uitslag.”
Die besoekers het nou wel nie ’n bonuspunt vir vier of meer drieë vermag nie, maar sal steeds tevrede wees met die vier punte vir hul moeite.
“Ons het beslis nog ’n kans om tot die halfeindronde deur te dring. Ons speel nou teen die Blou Bulle tuis. Ons vat elke wedstryd week vir week en hierdie week sal dit ook nie anders wees nie,” het Strauss gesê.
Griekwas se kaptein en losskakel, Naas Olivier, het agterna geen doekies oor die uitslag omgedraai nie.
“Ons is baie teleurgesteld dat ons nie ’n oorwinning behaal het nie. Die wedstryd is feitlik op ’n skinkbord vir ons gegee en ons het dit weggegooi. Maar ons sal volstoom bly veg. Daar kan nog baie gebeur,” het hy gesê. Die Poubloues kom volgende week in Johannesburg teen die Leeus te staan.
|